Van vrou tot vrou – door Anastasia de Vries

Angela Tuck
Anastasia de Vries

Van vrou tot vrou - door Anastasia de Vries

Miejang en eggo’s van vrou tot vrou

Sy staan op die skouers van vroue soos Toni Morrison en Audre Lorde wat soos sy ’n stryd moes voer om gehoor en gesien te word, sê die Belgiese skrywer en kunstenaar, Neske Beks. Nou is sy geroepe om haar skouers vir ’n jonger geslag, ook in Suid-Afrika aan te bied. Anastasia de Vries vertel meer.

Ooit is miejang in ’n lesinglokaal brand gesteek. ’n Pluim welriekende rook krul uit die wierook in haar hand. Sy ontspan merkbaar toe sy sien hulle herken dit, dié reinigingsritueel. Miejang teen wat slegte energie ook al daar is, teen wat vir magte ook al nog jou woorde, taal, jou stem gyselaar hou. Sy is Neske Besk en sy kom nie alleen nie. Agter haar staan haar ma, ’n Nederlandssprekende Belg, haar pa, ’n man uit Senegal, en agter hulle hul ouers en agter hulle … sy tel hulle af tot 64, haar voorouers. Ook julle kom nie alleen nie, sê dié Belgiese skrywer, akteur, film-, teater- en musiekmaker, ook agter julle staan julle ouers en agter hulle hulle ouers en agter hulle … “Ons sien hulle nie, maar hulle is hier. Ons kom nooit alleen nie.”
Ons kom nooit alleen nie. Sy sing dié woorde, luidkeels, bulderend selfs. Die klank golf by die deure uit. Die jong klomp klap hande. Sy sien dat hulle dit wel begryp, sê sy, en dat sy nog nie die woorde het om te beskryf wat dit vir haar beteken om voor mense te staan aan wie sy nie haarself, haar hier wees soos sy is, hoef te verduidelik nie. Dis wat kuns, die letterkunde veronderstel is om te doen, vervat sy, om ons te laat sien wie en wat daar is en wie of wat daar nie is nie en die stiltes in onse eie woorde uit te sê. Sy laat hulle een van haar kortfilms sien, vertel oor haar familie, verwys hulle na Eigen volk/My people (of all people), ’n dokumentêr waarin sy sin probeer maak van haarself in dié bloedverweefdhede.
Sy praat oor haar boek De kleine Morrison, haar Nederlandse vertaling en uitleg van Toni Morrison se toespraak by die ontvangs van die Nobelprys vir letterkunde in 1993. Sy praat oor die mag van taal om kennis te onderdruk, “ze is niet ontvankelijk voor ondervraging, kan geen nieuwe ideeën vormen of verdragen, noch andere gedachten vormen, andere verhalen vertellen of verbijsterende stiltes vullen”, soos dit in dié boek opgeteken is. Taal skep die werklikheid, sê sy. Taal kan dit doen. Taal is mag. Daarom, skep jou eie werklikheid. In jou eie woorde. Jou eie taal. Verhef je stem! Sy sing dit. Bulderend. Vuis in die lug.
Maar is ons vry? Sy slaan haar hand voor haar mond, die jonge vrouestudent, skud haar kop. Sy is nie gewoond daaraan om só uit te praat nie, skryf sy op ’n stukkie papier. Lank daarna kom sê sy: “Dit kon nie wag nie. Nog hoor ek die stem en energie van Neske Beks. Vandag is elke poort en deur en venster van ons taal wat nog vir my en ander soos ek gesluit is vir my oopgegooi. Dis wat kuns, die letterkunde veronderstel is om te doen. Daar was ‘n oomblik toe Neske praat oor haar ouers en hul ouers … toe kyk ek na haar en ek sien myself. En ek besef hoe taal mag is, wat dit doen. En ek kyk na Neske, haar moed om haar eie werklikheid uit te sê en self te skep, op haar manier, in haar woorde, haar taal, sonder vrees vir wat die mense gaan sê. Dít is vryheid! Vandag het ek die eerste tree na daai vryheid gegee. Ek kom nie alleen nie!”
Ná die klas drom van die studente om Neske saam. ’n Student prop ’n voosgevatte, vergeelde blaai in my hand. Sy weet nie wie se woorde dit is nie, maar sy het dit lank terug iewers afgeskryf. Nou dra sy dit in haar sak rond, hierdie woorde wat haar help-my-sterk-bly-woorde kom word het, haar mondering: “We come from humble families, old homes, small towns with sad stories. We are not husltling to impress or to be in competition with anyone. We just want to change the storyline and fight battles our parents never won.” Oor koffie en samosas en koesiestes sit ons later in die koffiekamer sit en gewaarwordinge uitruil. Ons luister na die stemme van jong vroue wat vertel van hul byna onnadenkende teruggryp op stilswye om tog net nie aanstoot te gee of ongemak te veroorsaak nie, meestal tot hul eie nadeel. Dis moeilik om “anders” te wees, sê een, nadat sy vir so lank geleer het om gehurk in die skaduwees te sit. Hier, sê Neske se meelewing, hier is ek, hier is my skouers. Ek gee dit vir julle om op te staan totdat ons sy aan sy saam met mekaar verder kan stap.
Sy self staan immers op die skouers van vroue wat soos sy ’n stryd moes stry om net gehóór te word. Gesíén te word, sê Neske Beks. Morrison. Audre Lorde. Gloria Wekker. ’n Lang lys name van vroue op wie se skouers en met wie sy sy aan sy staan voorin haar boek Echo. In haar staan geskryf: “De generaties na ons, aan wie ik op mijn beurt mijn schouders aanbied, knetteren hun werk alweer in mijn oren. Als de echo’s die we allen zijn. Weet dat ik je zie en hoor en voel, sis.” Neske is weg, merk iemand later die week op. In die lesinglokaal hang steeds die reuk van miejang en die eggo’s van haar stem en energie. “Ons is nie alleen nie!” Sy sing dit, die jonge vrou. Bulderend.

Laat een reactie achter

Het e-mailadres wordt niet gepubliceerd. Vereiste velden zijn gemarkeerd met *

Deze site gebruikt Akismet om spam te verminderen. Bekijk hoe je reactie-gegevens worden verwerkt.

Van vrou tot vrou - door Anastasia de Vries

Stay In Touch

NESKE